STAALTJIES
Ek en my boesemvriend Barry van Jaarsveld het as geswore Blou Bul-ondersteuners uit Pretoria in Kovsieland aangekom, Barry ewe trots met sy Noord- Transvaal-Cravenweekbaadjie. Eintlik het ons nie Kovsies toe gekom nie: Ons het na daardie legendariese koshuis, Reitz-kamerwonings gegaan, ‘n koshuis wat net in my tyd Springbokke soos Joggie Jansen, Jan Schlebusch, Gerrie Sonnekus, De Wet Ras, Eben Jansen en Hermanus Potgieter opgelewer het.
Ek en Barry was steeds Blou Bul-ondersteuners toe ons op 11 September 1971 na ‘n Curriebekerwedstryd tussen die Vrystaat en ‘n sterbelaaide Transvaalspan gaan kyk het. Tweederdes van die Transvalers was Bokke. In Vrystaat-geledere was daar slegs twee: Sakkie van Zyl en Joggie Jansen.
Wat ‘n wedstryd was dit nie! Die onderskatte Vrystaters het sewe soorte kalk uit die Transvalers geduik, Joggie het twee pragdrieë gedruk en die vleuel Koos Louw het die wedstryd verseël met ‘n drie aan die einde waar hy met ‘n sierlike boog oor die doellyn geduik het om ‘n sege van 26-12 aan die Vrystaat te besorg.
Daar en dan is ek en ou Barry “bekeer” en het ons Vrystaters geword. Hardlooprugby soos net die Cheetahs dit kan optower, was daarna ons kos. Ons het teruggeloop koshuis toe waar ou Barry formeel sy baadjie met die Baberton-daisy op aan ou Flip, die hoofkelner, oorhandig het met die voorwaarde dat hy dit slegs na die koshuis se jaarlikse mannedinee toe mag aantrek.
Daardie gedenkwaardige oorwinning word vandag nog beskou as die keerpunt in Vrystaat-rugby … en terwyl 9/11 later ‘n hartseer betekenis bygekry het, drink ek en ou Barry jaarliks op die dag ‘n ietsie uit dankbaarheid dat ons so vroeg in ons lewe die lig gesien het.
Blouwillem Theron
Foto: Blouwillem (tweede van links) en sy vriend Barry van Jaarsveld (voor) in vrolike luim saam met die oud-Springbok Gerrie Sonnekus ná ‘n Vrystaat-oorwinning. Die ander twee manne is Rooijan van Graan (links) en Frik Ras. Die manne was almal tydgenote in Reitz-kamerwonings op Kovsies.
In die laat sestigerjare het die Shimlas in Brittanje getoer. Een van die toerwedstryde was teen ‘n klub buite Londen. So halfpad deur die wedstryd besluit die Kovsies se flank en kaptein hy en sy flankmaat moet omruil.
“Gaan skrum aan die anderkant,” is die kaptein se opdrag aan sy spanmaat. Blykbaar het die Vrystater nie begryp wat van hom verwag word nie. “Wat sê jy?” vra hy. “Gaan skrum aan die ander KANT,” bulder die kaptein dit uit.
Hard en skril blaas die skeidsregter sy fluitjie. “Get off,” beveel die verontwaardigde Britse fluitjieblaser. “But what did I do wrong, Sir?” vra die Shimla-kaptein uit die veld geslaan.
“You called me a c@nt. And I won’t tolerate that sort of thing!”
Theuns Stofberg is die enigste rugbyspeler wat die Curriebeker as lid van drie verskillende unies gewen het. In 1976, sy eerste jaar as senior speler, het die Vrystaat met hom op flank die gesogte beker gewen. In 1978 het hy na Pretoria verhuis, waar hy as lid van die Blou Bulle die Curriebeker in 1979 met WP gedeel en in 1980 gewen het. Hy het sy loopbaan in die Kaap afgesluit, waar hy as lid van die WP die Curriebeker in 1982 en 1983 gewen het.
Maar waar lê sy hart?
“Dit was altyd en sal maar altyd Vrystaat en die Cheetahs wees,” bieg hy. “Dit is waar my wortels lê en waar ek my rugbytande geslyp het: eers as lid van Grey-kollege se spanne en later as lid van die Vrystaat-skolespan, Vrystaat se onder 20-span en les bes, die bul-span wat in my eerste jaar as senior speler die Curriebeker gewen het”.
Hy sê tydens die Curriebeker-eindstryd tussen die Vrystaat en die WP in 1997 op Nuweland, is alle twyfel oor waar sy lojaliteite lê, uit die weg geruim. “Ek het in die paviljoen gesit en besef die meeste van die toeskouers om my is WP-ondersteuners. Ek het derhalwe die hele wedstryd deur ewe besadig en beleefd hande geklap wanneer die WP of Vrystaat punte aanteken.
“Toe kom Jan-Harm van Wyk se ‘drie’ in die doodsnikke. Ek het gedink dit is die wendrie, want ek het nie besef Helgard Muller se aangee was vorentoe nie. Voor ek my kon kry, het ek opgespring en met gebalde vuiste my vreugde uitgejubel. My vreugde was natuurlik van korte duur, maar daar kon by niemand wat my dopgehou het, enige twyfel gewees het oor watter span ek ondersteun het nie.”
Foto: Theuns Stofberg (met die bal) se hart pomp steeds pure Cheetahs
During his time as South Africa’s ambassador in Japan, former Free State flanker Gert Grobler attended a function at which All Black legends Ritchie McCaw and Dan Carter were amongst the guests. Gert recalls that McCaw said to him: ” The Cheetahs, wow! That bugger Heinrich Brüssow was one of the most difficult customers I have ever encountered on the pitch as a loose forward. He was a brilliant fetcher.”
Gert says he proudly concurred with Mc Caw … “and we drank a toast or two to the Cheetahs and Heinrich”.
Toe ek in 1976 senior rugby vir die Vrystaat begin speel, het ons elke Maandag voor ‘n wedstryd ‘n koevertjie met ‘n briefie van die sekretaris van die Vrystaatse Rugby-unie, mnr. Neels Neuhoff, ontvang. Dit het die week se reëlings uitgespel, tot op die minuut.
Ook in die koevertjie was vier hoofpaviljoenkaartjies en ons vergoeding in harde kontant: ‘n groen R10-noot en ‘n pers R5-noot. Maar hou vas: dit was vir ons wégwedstryde! Vir ons tuiswedstryde in Bloemfontein het ons net die pers R5-nootjie ontvang.
So gebeur dit dat ons in 1976 deurgaan na die Curriebeker-eindstryd teen die WP. Met die opwinding wat hoogty vier in die Vrystaat, deel ons spanbestuurder, oom Jaap Bosch, die Maandag die koevertjies aan ons uit. Met groot genoegdoening deel hy ons mee dat die Vrystaatse Rugby-unie op ‘n spesiale vergadering besluit het om ons in harde kontant te vegoed vir ons harde werk. Met groot opgewondenheid skeur ons die koevertjies oop en siedaar, ‘n “bonus” van R2!
Dit wys jou net: Ons het destyds al beroepsrugby gespeel!
Vrystaat se roemryke sege van 132-3 teen Oos-Vrystaat op 31 Mei 1977 in Senekal, ook bekend as “Die Slag van Boerbokpark”, het vele vrolike staaltjies opgelewer. So vertel die vleuel Gerrie Germishuys, wat dié dag vier drieë gedruk het, hoe sy maag ná een van sy drieë erg begin grom het.
“Ek het besef ek moet vinnig by ‘n toilet uitkom. Daar was egter geen openbare toiletgeriewe op Boerbokpark nie: net tydelik toilette agter die ‘hoofpaviljoen’. Ek het vir die vale gehol, net om te sien hoe ‘n stuk of tien van die plaaslike ondersteuners reeds in die tou staan. Die manne het nie aangebied om plek vir my te maak nie, so ek het maar agter in die tou ingeval.
“Die telling was 60-0 toe ek van die veld af is. Toe ek uiteindelik my ding gedoen en terug op die veld is, was die telling 80-0 en was Hermanus Potgieter op regtervleuel reeds fluks op pad na die ses drieë wat hy die dag gedruk het.”